
Vier Bokke Genomineer vir die World Rugby-Toekennings
Vier Springbokke het erkenning ontvang vir hul indrukwekkende en konsekwente prestasies gedurende die 2024-seisoen ná hulle genomineer is vir die World Rugby-toekennings.
World Rugby het vandag die kortlys aangekondig. Die toekenningsgeleentheid sal op Sondag, 24 November, in Monaco plaasvind, ná die afsluiting van die November internasionale wedstryde.

Genomineer vir die gesogte Mans 15s Speler van die Jaar is Suid-Afrika se mees bekroonde speler van alle tye, Eben Etzebeth – wat mede-slot Victor Matfield se rekord van 127 toetse in September verbreek het – Cheslin Kolbe (vleuel) en Pieter-Steph du Toit (nuts-voorspeler), ‘n vorige wenner van die toekenning. Die Bok-drie sal meeding teen Caelan Doris van Ierland.
Bok-losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu, wat in sy eerste toetsspan-ervaring ‘n sterk indruk gemaak het voor ’n kniebesering sy seisoen kortgeknip het, is genomineer saam met Immanuel Feyi-Waboso (Engeland), Jamie Osborne (Ierland) en Wallace Sititi (Nieu-Seeland) vir die Mans 15s Deurbraakspeler van die Jaar-toekenning.
SA Rugby se president, mnr Mark Alexander, het al die spelers gelukgewens met hul nominasies vir die wêreld se mees gesogte toekennings.
“Dat Springbok-spelers in twee kategorieë genoem word, getuig van hul harde werk en toewyding aan die span en Suid-Afrika, en ons is baie trots op hulle,” het mnr Alexander gesê.
“Elke een van die Springbok-spelers het hierdie seisoen uitgeblink, en gegewe die gehalte van die Springbok-span wat Rassie Erasmus opgebou het, glo ek dat nóg spelers genomineer kon gewees het.

“Hulle verdien almal hierdie erkenning, en ons wens hulle sterkte toe vir die toekenningsgeleentheid in Monaco.”
Erasmus was ewe trots op die genomineerde Bok-spelers en het gesê: “Baie geluk aan die spelers vir hul nominasies en dat hulle hul merk gemaak het op die grootste rugby-verhoog hierdie seisoen. Wat hierdie nominasies selfs merkwaardiger maak, is dat die meeste van hulle reeds twee Rugby Wêreldbeker-titels gewen het en steeds die hoë standaarde handhaaf wat ons van die Springbokke verwag oor jare heen.
“Ons het reeds 50 spelers gebruik in ons toetse hierdie seisoen, en om hulle te sien uitblink onder die beste spelers in die wêreld is fantasties. Ons is uiters trots op hulle en wens hulle sterkte toe wanneer die wenners aangekondig word.”
Etzebeth was genomineer in 2013 en verlede jaar, terwyl Kolbe en Du Toit in 2019 op die kortlys was – die jaar wat die veelsydige Bok-voorspeler die toekenning gewen het. Slegs twee ander Suid-Afrikaners het hierdie toekenning verower – Schalk Burger in 2004 en Bryan Habana in 2007.
Ander Suid-Afrikaners wat in die afgelope dekade genomineer is vir die Mans 15s Speler van die Jaar-toekenning, is Willie le Roux en Duane Vermeulen (albei in 2014), Faf de Klerk en Malcolm Marx (albei in 2018), en Lukhanyo Am (2022).
Suid-Afrika se genomineerdes is:
Mans 15s Speler van die Jaar:
- Eben Etzebeth
- Cheslin Kolbe
- Pieter-Steph du Toit
Mans 15s Deurbraakspeler van die Jaar:
- Sacha Feinberg-Mngomezulu
Photos by (Springboks)